STUKWERK OF PRODUKSIEBONUS?

Stukwerk is die beginsel waar die werknemer streng per stuk (item of uitkoms) vergoed word.Die vraag is, “Is stukwerk nog relevant?’

Histories, voor 1 Maart 2006, is stukwerk tradisioneel gebruik om werknemers te vergoed in lyn met ‘n spesifieke taak en/of uitkoms gelewer deur die werknemer.  Die vergoeding verdien deur ‘n werknemer was in direkte verhouding met die uitset gelewer deur daardie werknemer. In die scenario waar ‘n werknemer R1 per sak appels ge-oes ontvang as vergoeding, en waar die werknemer slegs 100 sakke per dag ge-oes het, sal werknemer slegs R100 as vergoeding vir daardie betrokke dag ontvang. Deur hierdie praktyk te volg kon die werkgewer (produsent) sy arbeids-inset-koste beter bestuur. Ongeag die werknemer se produktiwiteitsvlak, bly die arbeidskoste per eenheid onveranderd.

Met die instelling van ‘n minimum loon moet werknemers minstens daardie minimum tarief ontvang ongeag wat die werknemer se produksie uitsette is. Die produsent (werkgewer) is nou genoodsaak om produksie uitsette te bestuur. Arbeids-inset-koste neem af soos die werknemer se produksie toeneem en visa-versa.  

Alhoewel die werknemer geregtig is op ’n minimum vergoeding per uur gewerk, soos per Nasionale Minimum Loon, kan ‘n produsent (werkgewer) steeds sy arbeids-inset-koste bestuur deur die implementering van ‘n produksie-bonus-stelsel. 

Voorbeeld: Die werknemer word aangestel teen R21-69 p/uur wat ook die huidige minimum loon is. Die vereiste produksie standaard waaraan die werknemer moet voldoen is 90 pluksakke per 9 uur dag (wat verkieslik in die werknemer se dienskontrak vervat moet word).  Dit wil sê dit kos die produsent R2-169 per pluksak (90 sakke gedeel deur 9ure = 10 sakke p/uur teen R21.69 per uur). As motiveerder word die volgende maatreëling getref:

Die werknemer sal, addisioneel tot sy normale vergoeding, R2-17 p/pluksak ontvang vir elke pluksak wat die minimum vereiste produksie standaard van 90 pluksakke oorskry.  Gestel die werknemer oes 105 pluksakke, sal die werknemer se vergoeding soos volg bereken word: 9 ure x R21-69, wat neerkom op R195-21, plus R32-55 (die verskil tussen totale pluksakke ge-oes minus minimum vereiste produksie standard, 105 – 90 = 15 x R2-17).  Die totale verdienste is dus R195-21 + R32-55 = R227-76. 

LET WEL: Indien die werknemer nie minstens die minimum produksie standaard pluksakke (90) oes nie, moet hy/sy egter steeds teen die minimum loon per uur gewerk vergoed word!  Sou die werknemer egter versuim om aan die ooreengekome standaard te voldoen, kan die werknemer se dienste beëindig word (prosesse soos deur die wet voorgeskryf word moet gevolg word). Die standaard moet egter billik en inlyn met die bedryf en area se standaarde wees. Indien die produksie standaard nie haalbaar is nie, kan dit as onbillik beskou word indien die werknemer se dienste om hiérdie rede beëindig sou word.  

Alhoewel tradisionele Stukwerk vergoeding nou “onwettig” is, kan die produsent (werkgewer) steeds sy arbeids-inset-koste bestuur, en terselfde tyd ook produktiwiteit verhoog deur die implementering van n produksie-bonus-stelsel.

© Andre Bloem